Die Audi A3 Sportback, die vyfdeur-weergawe van die gewilde driedeurmodel, is onlangs oorsee bekend gestel.
Dié model is 83 mm langer as die driedeur-luikrug en het 370 liter pakplek wat tot 1 120 liter vergroot kan word met die agterste sitplekke platgevou.
Die Sportback het Audi se nuwe neusstilering en die agterligte se ontwerp is geï nspireer deur Audi se Nuvolari-konsepmotor, asook die A8.
Dié modelreeks sal beskikbaar wees met vier- en sessilinderenjins, insluitende die 3,2 V6 wat 184 kW ontwikkel.
'n Splinternuwe turbo-enjin, die 2,0-liter - viersilinder-TFSI wat 147 kW en 280 Nm wringkrag lewer, sal ook in die Sportback bekend gestel word.
Daar is nog geen besliste planne om die Sportback hierheen te bring nie, maar ons meen die kanse is goed dat dié model reeds aanstaande jaar sy verskyning hier kan maak. .
Intussen het Audi sy langverwagte FSI-petrolenjin van 2,0 liter plaaslik tot die A3reeks toegevoeg. 'n Keuse van vier modelle met twee ratkaste en twee toerustingvlakkeuses is beskikbaar.
Volgens Audi is die FSI-enjin 'n uiters gevorderde kragbron met onder meer direkte hoëdruk-inspuiting deur middel van 'n gemene drukbuis-stelsel. Dit gee die enjin 110 kW krag en tot 200 Nm wringkrag, en dis gekoppel aan 'n sesgang-handratkas of 'n sesgang-Tiptronic-kas.
Pryse vir die 2,0 FSI-modelle is R202 000 vir die Attraction met sesgang-handrat, R215 000 vir die Tiptronic-weergawe, R212 000 vir die Ambition met sesgang-handratkas en R225 000 vir die Tiptronic-weergawe.