Share

Ons gesels met Jacques en Cindy

accreditation

Dis hier waar ek vir Jacques en Cindy, 'n voormalige Mej. SA, ontmoet. Jacques, gemaklik geklee in jeans en 'n gholfhemp, bied koffie aan die gesprek wissel van krieket tot die bouwerk aan sy huis en die weer terwyl ons wag dat Cindy klaarmaak vir die fotosessie.

Soos ons gesels, verkrummel die beeld wat ek van Jacques opgebou het, soos die boustof in sy voortuin.

Hy is ontspanne, spraaksaam en joviaal, so anders as wat ek verwag het, want in die TV-dekking van sy krieketwedstryde kom hy voor as 'n ernstige, half teruggetrokke en uiters gefokusseerde man.

Intussen sluit Cindy haar by ons aan, en met haar borrelende persoonlikheid helder sy die stemming in die vertrek nog verder op. Met haar neffens hom ontdooi Jacques nog verder, en dit was gou vir my duidelik dié twee bring mekaar se beste eienskappe na vore.

Die doel van my besoek was egter nie om hul verhouding onder die vergrootglas te plaas nie, maar om hulle uit te vra oor hulle rygoed. In die loop van dié gesprek blyk dit toe vinnig daar is twee onderwerpe wat onmin in hierdie paradys kan veroorsaak: Rugby en motorbestuurders.

En dis alles provinsialisme se skuld. Want sien, Cindy is gebore en getoë noord van die Vaal (en spandeer nog heelwat tyd in Pretoria en Johannesburg), terwyl Jacques 'n Kapenaar in murg en been is.

Sy is 'n getroue Blou Bul-ondersteuner, en hy steun die Stormers. Sy dink die Kapenaars het g'n benul van bestuur nie, terwyl hy omtrent dieselfde siening van Gautengers huldig.

En terwyl dié debat (bygesê, alles in ligte luim) voortgewoed het, kon ek hulle darem sover kry om ook 'n paar ander motorverwante vrae te beantwoord?

INrat: Watter motor, of motors, staan in julle motorhuis?

  • Jacques: 'n Opel Astra Koepee Turbo met 140 kW onder die enjinkap.
  • Cindy: Ook 'n Opel, maar 'n ander model ? die Astra OPC ? met dieselfde enjin as Jacques s'n.

    INrat: Waarom het julle hierdie motors aangeskaf?

  • Jacques: Dis 'n geborgde motor van Thorp Delta. Vandat ek my rybewys gekry het, ry ek Opels en dié model is vir my die versinnebeelding van alles waarvoor Opel staan.
  • Cindy: Die OPC kom ook van Thorp Delta, maar as ek in Guateng is, ry ek 'n Mercedes-Benz wat deur McCarthy Motors aan my verskaf word ? gewoonlik 'n Sports Koepee.

    INrat: Watter ander motors het julle al gehad?

  • Jacques: Ek was nog op hoërskool en my krieketloopbaan was nog nie eens mooi op dreef nie toe het ek sommer lekker voor op die wa by Thorp Delta aangeklop om te hoor of hulle nie vir my 'n motor wil borg nie. Hulle het vir my 'n Kadett 140 aangebied, en sedertdien ondersteun Nicky Thorp my nog al die jare. Ek het nog niks anders as Opels gery nie, en het al omtrent die hele reeks Kadetts en Astras gehad. My vorige motor was 'n tweeliter-Astra.
  • Cindy: Met die Mej. Suid-Afrika-wedstryd het ek die gebruik van 'n Ford Fiesta 1,6 RSi gehad, en daarna het ek deur McCarthy verskeie Mercedes-Benz-modelle gery, terwyl Nicky hier in die Kaap na my omsien.

    INrat: Wat is julle droomkar of ?karre en waarom?

  • Jacques: Dis seker 'n regte mans-ding, maar ek sal nie nee sê vir 'n bloedrooi Ferrari nie. Maak nie werklik saak watter model nie. Ek moet sê ek kan ook nie wag vir 'n paar opwindende Opel-modelle wat blykbaar later gaan beskikbaar wees nie, soos die GTC, wat nou nog net 'n konsepmodel is.
  • Cindy: Die nuwe Mercedes-Benz SLK. Dis vir my die aantreklikste, sexyste ryding wat bestaan.

    INrat: In watter voertuig het julle jul rybewyse gekry?

  • Jacques: In 'n Kadett 140i, daai een wat aangewys is as Motor van die Jaar. En ek het my rybewys met die eerste probeerslag gekry. (Dit het hy gesê terwyl hy uit die hoogte op Cindy neerkyk?)
  • Cindy: Ek het my rybewys in 'n VW Citi.com gekry? en dit was nie met my eerste probeerslag nie. (Terwyl sy traak-my-nie-agtig vir Jacques ignoreer.)

    INrat: Wat is die vinnigste wat julle al gery het, en waar het dit gebeur?

  • Jacques: Ek is nie een wat hou van vinnig ry nie (Cindy gee hom 'n verbaasde kyk), maar hou daarvan om die Koepee deur die ratte, veral tweede, op te jaag. Ek het werklik nog nie vinniger as 160 km/h gery nie.
  • Cindy: Ek moet bieg. Ek was op pad terug na Johannesburg met die Sport Koepee en in die middel van die Vrystaat is ek teen meer as 160 km/h gevang. Ek het nog die kaartjie as bewys. (Jacques kyk gemaak-afkeurend na haar.) Ek het nie besef ek ry so vinnig nie, en ek wil sommer nou weer groot 'skuus daarvoor vra. Ek sal dit nie weer doen nie.

    INrat: Wat is die beste ondervinding wat julle al in 'n ryding gehad het?

  • Jacques: Ek was gelukkig genoeg om 'n paar rondtes saam met Sarel van der Merwe op die Killarney-renbaan in die Astra Turbo's te doen. Goeie genade, dié man ken van r?, en vir my was dit 'n wonderlike ondervinding.
  • Cindy: Die gevorderde bestuurskursus wat ek vroeër vanjaar by Driving Dynamics by die WesBank-renbaan gedoen het ter voorbereiding van die Drive for Charity-byeenkoms. Dit was 'n openbaring om te sien wat 'n mens met 'n motor kan doen, en hoeveel jy veiliger kan bestuur as jy jou ryding ken.

    INrat: Raak julle geheg aan 'n voertuig, of is dit net 'n vervoermiddel om julle van een punt na 'n ander te bring?

  • Jacques: Ja, beslis. Ek is baie nougeset op my ryding en sorg dat dit altyd skoon en netjies is, en volledig versien is. Ek is trots op my kar, en daarom voel ek ek moet dit goed oppas.
  • Cindy: Nee. Vir my is motors net 'n middel tot 'n doel. Solank ek kan kom waar ek wil wees, is ek gelukkig. Ek weet egter nie wat sal gebeur as ek 'n SLK het nie?

    INrat: Wat is die meeste geld wat julle bereid is om op 'n ryding te bestee?

  • Jacques: Solank die ryding goeie waarde vir geld is, meen ek nie daar is 'n beperking nie. Motors is egter g'n belegging nie, dus sal ek nie baie meer as R350 000 wil spandeer nie - behalwe as ek daai Ferrari raakloop en dit kan bekostig.
  • Cindy: R367 000. Dis wat die nuwe SLK kos.

    INrat: Wat dink julle van Suid-Afrikaners se bestuursgewoontes?

  • Jacques: Ons is almal te ongeduldig en aggressief op die pad (het hy ernstig begin), en dis veral die Gautengers wat ry of daar g'n môre is nie. Hier in die Kaap het ons darem nog tyd vir mekaar?
  • Cindy: Nonsens! Die Kapenaars frustreer hulself en almal anders met hul langsaamheid. In Gauteng is die ongeskrewe kode jy gaan vir die gaping, of jy verloor, en almal verstaan dit. In die Kaap verstaan hulle niks daarvan nie, wat nog te sê van verkeersvloei. Maar ernstig nou, ek meen gevorderde bestuursopleiding is 'n moet vir alle motoriste, want dit leer jou om noodsituasies te hanteer om botsings te voorkom.

    Jacques en Cindy sal seker altyd oor die Kaapse/Gautengse motoriste-argument verskil, net soos oor die rugby. Feit is, die twee is gemaklik in mekaar se geselskap en duidelik verlief. En boonop is hulle albei oopkop-mense propvol planne en idees. Ons gaan nog baie van hulle hoor, sien en lees.

  • We live in a world where facts and fiction get blurred
    Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
    Join News24 today
    heading
    description
    username
    Show Comments ()
    Editorial feedback and complaints

    Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

    LEARN MORE