Share

Nissan Micra is eiesoortig

accreditation

My eerste kennismaking met Nissan se klein Micra was sowat sewe jaar gelede tydens 'n besoek aan die Nissan-fabriek in Sunderland, Brittanje, om die Primera te gaan toetsbestuur. Tydens dié sessie had ons ook kans om dié intreevlak-buksie te ry, en destyds het Nissan dit duidelik gestel dat hy die klein buksie graag in SA sou wou bekend stel.

Die probleem was egter Nissan se ooreenkoms met Fiat, want die Uno is in lisensie deur Nissan se Automakers-fabriek in Rosslyn vervaardig, en dit het beteken dat die Japannese vervaardiger nie 'n mededingende kleinmotor hier kon bemark nie, net soos Fiat (wat toe gereed gemaak het vir sy hertoetrede tot die SA mark) nie 'n Sentra- of Almera-mededinger hierheen kon bring nie.

Met Fiat wat ná sy hertoetrede beheer oor die vervaardiging en verkope van die Uno oorgeneem het, het die situasie verander, en met al die papierwerk afgehandel het Fiat verlede jaar sy Stilo bekend gestel, wat regstreeks met die Almera meeding.

Nissan had egter 'n dilemma, want die vorige geslag Micra was al lank in die tand, en dit sou nie sin maak om dié ryding so laat in sy lewenssiklus hierheen te bring nie. Daar is eerder besluit om te wag vir die nuwe model, wat in 2002 op die Parys-Motorskou vertoon, en net meer as 'n jaar gelede in Europa beskikbaar gestel is.

Met die oorsese bekendstelling van die 350Z-sportmotor in Duitsland verlede jaar, het ek die geleentheid gekry om ook die jongste Micra onder hande te kan neem, en so karakterloos soos sy voorganger was, só radikaal anders was die nuweling.

Byderwets

Die nuwe Micra vervat al die kenmerke van Nissan se nuwe byderwetse, individualistiese en radikale ontwerpfilosofie wat aanvanklik in die jongste Primera neerslag sy beslag gekry het. Sy eiesoortig anderse stilering en onafhanklike karakter is in regstreekse teenstelling met die vervelige konserwatisme van vroeëre Nissan-modelle.

Sy geronde boog-ontwerp (wat selfs meer radikaal is as dié van die Citroën C3 en 'n kombinasie is van moderne en retro-elemente) verseker 'n ruim binnekant en sy kompakte buite-afmetings met kort oorgange voor en agter maak dit maklik maneuvreerbaar, en verseker ook goeie hanteringseienskappe.

'n Hoë toerustingvlak en intelligente tegnologie verseker verder dat die innoverende nuwe Micra verfrissend anders is.

Soos die Primera het die Micra 'n "vlieënde vlerk"-sierrooster en eiesoortige hoog-gemonteerde ovaal hoofligte, terwyl die juweel-tipe agterlighulse deur deursigte, sirkelvormige truligte en rigtingwysers oorheers word.

'n Verligte "borrel" op die hoofligte wat vir die bestuurder sigbaar is, vergemaklik parkering en die voorste rigtingwyers is agter die sierrooster aangebring.

Die gewaagde buitekant word aangevul deur 'n stylvolle binneruim, geskep deur Nissan Design Europe, wat volgens Nissan nuwe standaarde in die B-segment van die mark stel wat gehalte, afwerking en ruimte betref.

Toerusting

Die instrumentepaneel het drukknoppe vir die lugversorging (klimaatbeheer in die Elegance-model), radio/CD-speler, elektriese kantspieëls en ritrekenaar (in die Elegance-model) en stuur-gemonteerde beheerkontroles vir die klankstelsel en ruitveërs.

Die ritrekenaar in die topmodel kan geprogrammeer word met belangrike datums, soos verjaardae en herdenkings, en die reënsensor vir die ruitveërs aktiveer outomaties die agterste ruitveër wanneer trurat geskakel word.

Nog praktiese kenmerke sluit in 'n ruim toesluitkas van 12 liter onder die voorste passasiersitplek, sowel as 'n groot paneelkassie, bottelhouers agter, groot deurvakkies, vier bekerhouers en selfs 'n geheime bêreplek vir 'n selfoon.

Die Micra het ook 'n verskuifbare agterbank, wat ongewoon is vir 'n ryding in hierdie marksegment. Op sy verste teruggeskuif bied dit heelwat beenruimte sodat drie grootmense redelik gemaklik kan inpas, en die bagasieruim kan van 251 tot 371 liter vergroot word.

Die nuwe Micra is van die grond af op nuut ontwerp en sy bakwerk is ontwikkel vir algehele bots-sterkte en maklike herstel. Dié stewige onderstel en bak dra saam met 'n algehele nuwe veringstelsel - bestaande uit MacPherson-stutte gemonteer aan 'n subraam voor en 'n wringas-balk met sleeparms agter - by tot dié kleinding se skerp hantering.

Verstaan mooi, dis g'n blitsbuks nie, en sy dunnerige bande en redelik sagte veringverstellings laat wel effens bakrol toe, terwyl stuurtraagheid inkruip wanneer die voorwielaangedrewe ryding in die draai gedruk word. Maar sy ritgehalte is gerieflik, veral as sy grootte in ag geneem word, en die geraasdemping in die binneruim is opmerklik.

Die snelheidsensitiewe elektriese kragstuur verleen die maksimum hulp teen parkeersnelhede, en dit verminder geleidelik namate die padsnelheid toeneem, ten einde vir 'n beter stuurgevoel tot sorg. Dit alles sorg vir 'n ratse motortjie in alle soort padomstandighede, hoewel die stuur effens dood voel in die reguit-vorentoe posisie.

Gevorderde tegnologie word ook onder die enjinkap ingespan, want die viersilinder-petrolenjin ('n turbodiesel-model, toegerus met Renault se 1,5 dCi-enjin, word oor sowat 'n jaar verwag) van 1,4 liter is geheel van aluminium vervaardig en het ook veranderbare kleptydreëling (VTC).

Die 1 386 cc-kragbron met 'n dubbele bonokas en 16 kleppe is 'n volwaardige Nissan-enjin en lewer 65 kW teen 5 200 r/min en 128 Nm wringkrag teen 3 200 r/min.

Gekoppel aan 'n nouverhouding vyfgang-handratkas stel dit volgens Nissan die Micra in staat om 'n topsnelheid van 172 km/h te bereik, en om binne 11,9 s van stilstand tot 100 km/h te versnel. Nissan maak ook daarop aanspraak dat die Micra 'n gemiddelde verbruiksyfer van 6,3 liter/100 km het, wat dit 'n goeie reikafstand gee met sy brandstoftenk wat 46 liter hou.

Die enjin is glad en verfynd, en toer maklik tot by die rooi lyn net bokant 6 000 r/min, en hidro-dinamiese monteerstelsel verminder beslis enjinvibrasie, terwyl die voorste subraam padgeraas absorbeer.

Ook het die Micra gevorderde rem- en bestuurshulpmiddels, waaronder sluitweerremme (ABS), nood-remhulp en elektroniese remkragverspreiding (EBD). En wat passiewe veiligheidstoerusting betref, is daar lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier in albei modelle, sowel as sykantse lugsakke in die Elegance-model.

Twee modelle, die Comfort en Elegance, albei met die 1,4 liter-kragbron, sal aanvanklik hier beskikbaar wees om die Renault Clio, VW Polo, Peugeot 206, Citroën C3, Ford Fiesta, Honda Jazz en Hyundai Getz aan te vat.

Die Comfort-model is beskikbaar met 'n rigprys van R123 500, terwyl die Elegance teen R132 747 aangebied word.

Nissan SA het groot verwagtinge van die nuwe Micra, veral omdat dit sy eerste B-segment-mededinger in baie jare is. Met dié model wil die maatskapy 'n nuwe, jonger koper trek, en te oordeel aan die reaksie wat dit op die pad uitlok, kan dié klein luikruggie die wenner wees waarvoor Nissan so lank al wag...

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE