--
 
Hot hatches - Old vs New

Check out these 5 hatches and compare the old with the new.

5 most important cars

We take a look at 5 cars that revolutionised the automotive industry.

Reader test: BMW 318iS

2007-05-23 09:11

Pieter Kotze, Kaapstad

Die BMW 3-reeks was nog altyd 'n voorverkoper in sy marksegment. Om eerlik te wees, is baie mense maar agter daai blou en wit propellertjie aan, maar mens kan nie hierdie baba-BMW miskyk nie. Die E30 het die grondslag gelê met sy sportiewe karakter en reguit-ses enjins. Die E36 het 'n koei ingesluk, maar ook die doelpale verskuif wat kwaliteit en gewilligheid om gery te word betref. BMW het die 318iS met sy 1.9 liter-enjin net bo die 318i (1.8 liter) uitgebring om die manne wat net so 'n bietjie ekstra krag gesoek het, tevrede te stel.

Voorkoms

Aan die agterkant, kan mens definitief die 5-reeks se invloed sien, terwyl dit van voor ook onmiskenbaar 'n BMW, met sy vet niere wat menige mense al in die stadige baan in gedwing het. Die 15-duim-tekkies lyk soms verdwaald in die wielomhulsels en die die stertkant lyk bietjie oorgewig. Tog is die proporsies redelik goed en fyn detail soos die hoek van die kattebak bo die agterligte maak dat 'n drukvlerk oorbodig voorkom. Al wat half verdag lyk is die beskermende plastiek oor die voorligte. Dit laat die voorligte vaal vertoon, en die kar lyk effe aan die slaap.

Binneruim

Die binneruim is tipies Duits, met donker materiale wat oorheers. Die plastiek gee die gevoel van gehalte en die stuurwiel vertoon sportief. Dis nie verskriklik opwindend nie, maar funksioneel, met die hoofkontroles wat effe na die bestuurder se kant getilt is. Die pedale is net regs van die middel geposisioneer, maar is maklik om aan gewoond te raak. 'n Pluspunt is die dubbelsone klimaatbeheer, wat jou in staat stel om 'n El Nino-droogte aan die een kant te hê, en 'n Antarktika sneeustorm aan die ander kant. Die voorste sitplekke sluk jou lekker in, en steun is goed aan alle kante. Net die hoogte van die stuurwiel kan verstel word, maar 'n gemaklike bestuursposisie is maklik te vinde. Die kantspieëls en ruite is ook elektries verstelbaar.

Die kattebak opening is net-net kort van goed. Agter is spasie nie oorweldigend nie, maar as die voorste manne 'n bietjie plek maak, behoort vetseun plek te kry agter. Twee dinge wat wel gepla het was die nette agter die voorste sitplekke wat bietjie goedkoop lyk, en die gebrek aan 'n middelkonsolebêreplek wat kan toemaak. O ja, en waar is my bekerhouers?

Verrigting

Dis hier waar die 318iS ons verras het. Die 1.9 liter-enjin is nie die grootste enjin in die wêreld nie, en dié middelgewigbokser lyk soos Dingaan Thobela op sy oudag, maar die 103 kw en 180 Nm is oorgenoeg vir dié model. Moenie die verrigting van die Shadowline 325iS van ouds verwag nie, maar wees verseker dat jy nie teleurgesteld gaan wees nie. Jy kan hom maar opvat tot hier by 5500 r/min voordat jy oorsit en die hoë wringkragsyfer help definitief vir die verbysteekversnelling en wanneer bulte aangevat word. Die 0-100 km/h is afgelê in 11.2 sekondes, maar die beter nuus is by die verbysteektoetse. In 3de rat word 60-80 km/h in 4.1 sekondes kafgedraf en in 4de rat word 100?120km/h in 6.4 sekondes bereik. Ons moes die 3-reeks so 'n bietjie piets in 5de rat, maar ons kon niks vinniger as 12.5 sekondes bereik in die 120-140 km/h-toets nie.

Topspoed is 'n gerieflike 213 km/h en die kar klim lekker teen die bulte uit in 5de rat.

Remme

Die 318iS is toegerus met ABS en skyfremme reg rondom. Die pedaalgevoel is positief, en het amper 'n nekbesering of twee veroorsaak met ons noodstoptoetse. Die 100?0 km/h-noodstoptoets is in 'n skamele 3.01 sekondes afgelê, uitstekend vir hierdie klas moor, en die motor het sonder drama tot stilstand gekom.

Hantering en Rit

BMW's was nog altyd beroemd vir hul sportiewe hantering, veral omdat dit een van die min agterwielaangedrewe middelslagsedans is. Die 318iS is geen uitsondering nie, en lok jou uit om hom verder en meer te druk in elke draai. Met die indraaislag is daar 'n gevoel van stuurtraagheid, wat seker ingewerk is omdat die kar van nature stuuroorywerig sal wees, maar sodra jy die kar balanseer met die fynste opwaartse beweging van jou regtertoon, sit hy vas in die draai. As jy hom regtig druk in 'n mediumspoed-swiepdraai, kan jy voel dat die agterkant met jou begin gesels, en jou net herhinner dat hy gaan uitkom om te speel (en jou dalk byt!) as jy nie versigtig met hom werk nie.

Ongelykhede in die pad word met minagting opgeëet. Daar is baie min padgeraas, en die bestuurder sal altyd voel asof hy in 'n koekon sit. Die enigste kraakgeluide wat jy in die kar sal hoor is die chips wat deur vetseun verorber word.

Prys Huidiglik is hierdie menere beskikbaar vir enige iets tussen R65 000 en R85 000 afhangende van die modeljaar, kilometers afgelê en algemene toestand. Wees op die uitkyk vir gepimpte weergawes of enige model wat net effe aan gepeuter is. Ouer BMW?s is gewilde karre onder die die deel van die mensdom wat hulle tweedehands optel en glo dat karre soos toiletpapier gebruik moet word.

Opsommend

Dit vat nie lank om agter te kom hoekom die 3-reeks so goed verkoop nie. Of dit wel verdien om sy kompetisie so oortuigend te klop met verkope, is seker debatteerbaar. Die kar gee jou egter daai gevoel van kwaliteit en soliditeit. In die 318iS kry jy genoeg krag om mee te speel, al is dit nou nie aardverskeurend nie. En al het hy sy tekortkominge aan die binnekant, gaan dinge soos die hantering, agterwielaandrywing en die blou-en-wit wapentjie veel meer kopers lok as wat die kompetisie wil hê.

Reader tests

Please submit your reader test (not exceeding 500 words) to us at feedback@wheels24.co.za and remember to include a photo or two (no more than three!) for us to use along with your published test.

NEXT ON WHEELS24X

Inside Wheels24

There are new stories on the homepage. Click here to see them.