Share

Dis Honda (en perdalks 'n BMW?) vir Jenson...

accreditation

'n Skrale vier jaar gelede het Jenson Button die Formule Een-sirkus aan die gons gehad toe hy as een van die jongste F1-jaers nóg vir die Williams-renspan op die wegspringrooster aangetree het.

Die 20-jarige Button het 'n ieder en elk verras met sy spoed en renvernuf - sy jeugdigheid ten spyt - maar net die volgende jaar moes hy plek maak vir die temperamentele Colombiaan Juan Pablo Montoya, en vir 'n ruk het hy hom in die F1-doldrums bevind.

Verlede jaar het hy na die BAR Honda-span oorgeskuif en almal verras deur die hoog aangeskrewe Jacques Villeneuve male sonder tal op sy baadjie te gee.

Vir vanjaar se seisoen is hy op 24-jarige ouderdom die BAR Honda-spanleier, met Takuma Sato as spanmaat.

Die BAR Honda's het die afgelope seisoen goed vertoon, en in van die Grands Prix het dié motors na die enigstes gelyk wat die alles-oorheersende Ferrari's die stryd kan aansê.

En Button, wat vanjaar reeds 'n keer of wat op die podium gestaan het, kan dalk nog voor die einde van die seisoen sy eerste Grand Prix-oorwinning behaal.

Die jong Brit het in Julie 'n blitsbesoek aan Kaapstad gebring om stukrag aan die Moment in a moment-fotografie-uitstalling oor Formule Een te verleen, terwyl sy BAR Honda 006-renmotor ook hier vertoon is.

Dit wil voorkom of hy toe reeds geweet het dat hy hom volgende jaar dalk weer by die BMW-Williams-renspan kan bevind (soos onlangs aangekondig is), maar dit blyk dat dié skuif nog g'n uitgemaakte saak is nie.

Ewenwel, ten tyde van sy besoek het ons 'n paar oomblikke gesteel om meer uit te vind oor sy eerste ondervinding in 'n ryding en watter soort motors hy van hou, en net so blitsig soos hy in 'n renmotor is, so vinnig het hy ons vrae beantwoord.

INrat:Watter motor, of motors, staan in jou motorhuis?
Button: 'n Honda NSX-supermotor.


INrat: Waarom het jy hierdie motor aangeskaf?
Button: Wel, dis die enigste motor in my motorhuis, en ek het dit gekies omdat dit ontwerp en ontwikkel is met die hulp van Ayrton Senna.


INrat: Is dit jou droommotor?
Button: Ja, beslis. (Sou hy wel aanstaande jaar vir BMW-Williams jaag, sal dit interessant wees om te weet of hierdie antwoord dieselfde sal bly?)


INrat: Watter motor ry jou pa, John (die grootste stukrag agter Jenson om sy Formule Een-droom te bewaarheid). En jou vriendin, Louise Griffiths?
Button: My pa ry 'n '57 Chevy Corvette wat ek vir hom vir sy verjaardag gegee het. Wat Louise betref ? ek dink nie dit sal reg wees om daaroor te praat nie. Dis haar besigheid.


INrat: Watter voertuig was jou heel eerste vervoermiddel?
Button: My eerste ondervinding in 'n voertuig was met 'n Suzuki Jeep in 'n modderveld toe ek 15 was. Ek onthou ek het ontelbare doughnuts gedoen!


INrat: In watter ryding het jy jou rybewys gekry?
Button: 'n diesel-Nissan Micra wat aan die bestuurskool behoort het.


INrat: Watter stuk pad is vir jou die opwindendste, en waarom?
Button: Beckett's-draai op die Silverstone-renbaan. Die "waarom" los ek vir jou verbeelding.


INrat: Wat is die vinnigste wat jy al op 'n openbare pad gery het, en waar was dit?
Button: Ek is teen meer as 200 km/h op 'n snelweg in Frankryk gevang (dié voorval het heelwat publisiteit oorsee gekry). Nooit weer nie!


INrat: Wat is die meeste geld wat jy bereid is om aan 'n ryding te spandeer?
Button: Niks nie. Dis nie nodig nie? want ek ry bitter min self op openbare paaie. Dis ook waarom dit lekker is om vir Honda te werk (en dalk in die toekoms vir BMW... Jy kry jou rygoed verniet!


INrat: Wat sou jy gedoen het as jy nie 'n renjaer geword het nie?
Button: Ek kan my niks anders indink nie. Ek wou altyd in 'n Formule Een-renmotor jaag. Dit was my droom sedert die eerste dag wat ek kan onthou.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE