--
 
Hot hatches - Old vs New

Check out these 5 hatches and compare the old with the new.

5 most important cars

We take a look at 5 cars that revolutionised the automotive industry.

'n Legende tydloos gevier

2004-09-27 08:43

Hilux Legend35-bakkies doen hul ding in Madagaskar

Danie Botha

Suid-Afrika se kaalbaskoning, Beau Brummel, sal sommer baie van Madagaskar hou. Hierdie eiland, gesetel in die Indiese Oseaan, staan nie verniet as "die plek wat tyd van vergeet het" bekend nie.

Hier loop sommige Madagasie nog poedelkaal rond, die nasionale paaie lyk plek-plek eerder soos 'n rowwe 4x4-baan, en van moderne geriewe is daar maar min teken.

Dit geld nog meer vir die idilliese eiland Nosy Be, sowat 20 km noordoos van die hoofeiland. Nosy Be het 'n paar asemrowende vyfster-hotelle waar veral Europeërs heerlik baljaar.

Mik egter van die hoofpaaie af, en 'n ander sy van Nosy Be kom na vore - 'n eiland waar tyd inderdaad stilgestaan het.

'n Plek waar die inwoners dieselfde lewensstyl as hul voorouers van 300 jaar gelede handhaaf. En 'n plek waar enige motorvoertuig tot die uiterste beproef word.

Spesial weergawe

Dis hier waar Toyota SA sy nuwe Hilux Legend35-bakkie bekend gestel het. Maar voor ons by die 4x4-ryery kom, eers 'n paar feite oor die nuwe Legend35.

Dié weergawe het 'n paar help-my-sterk-lyk-ekstras vir 'n eksklusiewe, modieuse voorkoms, waaronder 'n rolstaaf, bosbreker, agterste buffer en kanttrappies van vlekvrye staal, spesiale allooi wiele wat met Continental AI Trac-bande uitgedos is, leerbekleedsel vir die kajuit (met 35-logo op die sitplekke), en 'n voorlaaier CD-klankstelsel met silwer afwerking. Legend35-sierstrepe en kentekens is ook deel van die pakket.

Die Legend35-pakket is beskikbaar vir alle Hilux Raiders, beide die 2,7 liter-petrol en 3,0 turbodiesel-weergawes. Meganies is die Legend35 identies aan die gewone Raider, met die 2,7 liter-enjin wat 108 kW krag en 235 Nm wringkrag lewer, en die KZTE-dieselmodel wat 85 kW en 315 Nm lewer.

Op Nosy Be is daar verassend baie motors; almal donkiejare oud. Renault R4's, Citroën 2CV's en Peugeot 404s is die mees algemeenste vervoermiddels, synde Madagaskar eens 'n Franse kolonie was. Dit spreek boekdele vir dié Franse strydrosse se uithouvermoë.

Nosy Be is nie motor-vriendelik nie, en selfs die geteerde hoofpaaie is bra nou, met slaggate, fietstryers, busse en beeskarre (in plaas van donkiekarre) wat enige buitelandse bestuurder op sy of haar tone hou.

Die konvooi Hilux-bakkies het vroegoggend pad gevat die onbekende in. Gou is die teerpad vir 'n rowwe grondpad verruil, want dis die beste manier om die eiland te verken. Rowwe tweespoor-paadjies kronkel tussen plaaslike vissersdorpies deur, en inwoners het nuuskierig pad se kant toe gestroom om die konvooi gade te slaan.

Een ding is seker: As jy haastig en ongeduldig van geaardheid is, moet jy liefs nie hier ry nie. Om 70 km af te lê, neem die beste deel van 'n dag. En, soos ons aanstons uitgevind het, 'n rateltaai 4x4 bakkie is 'n absolute noodsaaklikheid.

Lamlendige br?e van hout saamgeflans, dongas wat 'n Renault R4 laat sidder, diep modder en baie water is jou voorland as jy die landelike dele van Nosy Be invaar.

Gepraat van modder. Die hoofeiland is 'n unieke stukkie aarde, en die landskap wissel van dorre woestyn en onherbergsame klipberge tot tropiese reënwoude en idilliese, blinkskoon palmboom-strande met die helderste water.

Uitdagings

Op Nose Be het ons die tropiese woudstreek raakgey ? met modder vir Afrika. Wat dié stuk "pad" nog meer uitdagend gemaak het was dat dit plek-plek skaars breëd genoeg was vir 'n Renault 4, wat nog te sê 'n dubbelkajuit-bakkie.

Rotse, klippe, seepgladde modder en groot afgronde was die konvooi se voorland ? 'n uitdaging vir enige 4x4 voertuig. Ons het dit kafgedraf in tweewielaandrywing, met die laestrek-ratverhouding geselekteer. Rêrig.

Later die middag, op pad terug na die "beskawing", het 'n ware stukkie 4x4-pad opgedoem. Vooraf is ?n groot bohaai oor dié stuk pad gemaak, en ons is gewaarsku dat net die mees ervare 4x4-bestuurders die stokke hier moet vat.

Ons het hierdie keer wel die vierwieldryfstelsel geselekteer, maar dit was byna oorbodig. Die Legend35 het van die rowwe roete 'n plat stuk grondpad gemaak. Soos die Ingilsman sê: No mess, no fuss.

Later die middag toe ons per boot teruggevaar het na die oornagpunt, met die son wat skouspelagtig met die horison flirteer, was daar konsensus onder die motorskrywers. Die Hilux is taai. Punt. Hy bang niks nie.

Interessant genoeg was die huidige geslag-Hilux se eerste ontmoeting met rowwe toestande nie so maklik nie. Op Toyota SA se moderne toetsterrein in KwaZulu-Natal, waar alle Toyota's tot die uiterste beproef word, is gevind die Hilux, in sy oorspronklike Japannese vorm, het letterlik uitmekaar geval op die rowwe toetsbaan.

Dis egter juis hier waar die Hilux 'n voorsprong het: Toyota SA se ingenieurs het die Hilux onder hande geneem, versterkings ingebou, toetse gedoen, nog versterkings en veranderings aangebring, en nog toetse gedoen - totdat hulle oortuig was die Hilux sal alle toestande kan hanteer.

Die Hilux is hier 'n legende in sy eie tyd, en steeds die onbetwiste eentonbakkie-koning van Afrika. Nosy Be-eiland was die perfekte plek om die Legend35 se taaiheid te beklemtoon. En ja, die Hilux is selfs taaier as 'n 40-jarige Renault R4 met miljoen kilometer op die klok...

Inside Wheels24

There are new stories on the homepage. Click here to see them.