Share

Motors en hul foute

accreditation

Die Chrysler Neon die beste klein weeldesedan in die land? Nou toe nou. Heelwat is al geskryf oor die Synovate-studie waarin die wenners wat gehalte en betroubaarheid betref in twaalf motorkategorieë aangewys is, maar daar was ook 'n paar verrassings ? soos dat die Neon voorverkopers soos die Toyota Corolla (groter as 1,4 liter) uitgestof het.

Die Neon, met 91 foute per 100 motors wat verkoop is (soos gerapporteer 90 dae nadat die voertuig aangeskaf is), is nog nooit baie hoog deur die plaaslike motormedia aangeskryf nie, en dit het ook in verskeie verslae deurgeloop weens bedenkinge oor die gehalte van sy afwerking.

Tog blyk dit uit hierdie verslag dat Neon-eienaars baie gelukkig met hul rygoed is. Dit kan dalk wees dat 'n tipiese Neon-koper nie so vol fiemies soos bv. 'n Corolla-koper is nie, maar dis dalk effens vergesog.

Feit bly dat die Neon 'n anomalie is in 'n studie waarin aannames oor die motorbedryf verder versterk is, en 'n korrelasie bestaan tussen sekere motors se betroubaarheid en gehalte en hul goeie verkoopsyfers.

Nog so 'n "teenstrydigheid" is die Mercedes-Benz M-Klas wat in die kategorie vir groot sportnutsvoertuie beter as die BMW X5 en vyfdeur-Mitsubishi Pajero gevaar het met 55 foute per 100 voertuie, teenoor 70 en 123 vir die ander twee onderskeidelik.

Met die aanvanklike bekenstelling van die M-Klas is hy gelooi vir ratels in die binneruim, veral by die agterdeur, en swak afwerking, maar dit blyk dat sy bougehalte intussen met rasse skrede verhoog is (moontlik nadat produksie van die VSA na Oostenryk verskuif is?)

'n Ander interessantheid is die afwesigheid van Volkswagen se produkte op die lys van wenners en naaswenners. Hoewel die Audi A4 die heel beste in die studie gevaar het (met net 56 foute per 100 eenhede, is dit 'n ingevoerde model, wat beteken dat die gehalte van VW se plaaslik-gemonteerde produkte (soos die Polo en Golf) nie die mas opkom in hierdie geselskap nie.

Dis effens kommerwekkend as in ag geneem word dat baie Golfs wat hier gebou word, na ander lande uitgevoer word.

Die teendeel is egter waar wanneer dit kom by ander plaaslike vervaardiger soos Toyota, Mercedes-Benz en BMW. Met DaimlerChrysler SA en BMW SA wat in byna elke afdeling waarin hulle mededingers het, in mekaar se nekke blaas, is dit duidelik waarom DCSA se fabriek in Oos-Londen en BMW se Rosslyn-aanleg onder die beste fabrieke ter wêreld beskou word wat gehalte betref.

En indien net plaaslik-vervaardigde modelle in ag geneem word, is die dieselaangedrewe BMW 3-Reeks (met 60 foute per 100 voertuie) die beste modelle in die land ? 'n uitmuntende vertoning.

Hoewel die gehalte en betroubaarheid van voertuie in Suid-Afrika in die laaste vyf jaar met 40% verbeter het, is daar steeds 'n paar vervaardigers wat hul sokkies sal moet optrek.

Veral Fiat en Land Rover het deurgeloop. Bygesê, die Palio word in die Automakers-fabriek (wat aan Nissan behoort) in Rosslyn gebou, wat Fiat SA dalk sal noop om gehalte-samesprekinge met die belanghebbendes by dié fabriek te voer.

Laastens is dit jammer dat die Synovate-studie nie die handelsname onder die Associated Motor Holdings-vaandel, soos Hyundai, Kia, MG/Rover en Citroën, of Renault en Peugeot insluit nie.

Dis 'n tekortkoming, want kopers kan dalk nou op sterkte van hierdie verslag 'n koopbesluit neem, sonder inagneming daarvan dat dié vervaardigers uitgesluit is.

Hopelik sal hulle aanstaande jaar ingesluit word, want 'n mens wonder hoe die tabelle sou lyk met Renault se modelle daarby ingereken...

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE