--
 
Hot hatches - Old vs New

Check out these 5 hatches and compare the old with the new.

5 most important cars

We take a look at 5 cars that revolutionised the automotive industry.

Die mag van EEN-drag

2004-09-28 11:47

Dis jammer die akteur Nicolas Cage het nie nog een dag langer op die uiters eksklusiewe wildreservaat Shamwari in die Oos-Kaap vertoef nie. Want indien hy het, sou hy hom kon verlustig in 'n hele trop blinknuwe BMW 1-Reekse.

Cage, wat nog besig is om 'n nuwe fliek in die Kaap te verfilm, het 'n af-tydjie op Shamwari deurgebring om die Groot Vyf te soek, en dit was ook die plek wat gekies is om die nuwe Beierse bulletjie plaaslik bekend te stel.

Die akteur sal egter nie maklik 'n 1-Reeks in Hollywood raakloop nie, want die jongste vloegtuigskroef-model is wel al in Europa beskikbaar, maar nie in die VSA nie, en dis 'n ope vraag of dit wel daar gaan gesig wys.

Ewenwel, naas die staatmaker-3-Reeks is die nuwe 1-Reeks sekerlik die belangrikste model vir BMW SA, want nou ? vir die eerste keer in die moderne geskiedenis van die maatskappy ? kan hy weelderige luikr?e soos die VW Golf, Alfa Romeo 147, Audi A3, Opel Astra, asook die Mercedes-Benz A-Klas (nie werklik 'n luikrug nie, maar wel 'n mededinger in dié klas), tromp-op loop.

Hierby kan ook in 'n mindere mate die Fiat Stilo, Renault Mégane, Honda Civic, Peugeot 307, die Mazda 3 en nuwe Ford Focus gevoeg word.

Interessant genoeg sien BMW nie juis die Toyota RunX as mededinger nie, omdat hulle meen dié model se kopersprofiel verskil heelwat van die individualistiese, statusbewuste en sportiewe jong koper wat hy vir die Een oormerk.

Tipies BMW

In teenstelling met sy mededingers het BMW met die 1-Reeks getrou aan sy tradisie gebly.

Waar met die A-Klas, met sy voorwielandrywing en enkelruim, drasties afgewyk is van die aanvaarde Merc-norme, en Audi met die A3 weggedoen het met sy Quattro-beginsel, is die 1-Reeks steeds agterwielaangedrewe met 'n langsgemonteerde enjin voor.

Dit volg op BMW se belofte nog voor die Een die lig gesien het ? dat sy kleinste model nog steeds soos 'n BMW sal voel en ry, en nie soos 'n opgepompte Golf nie.

Dit is vermag deur die nuweling 'n lang asafstand te gee (82 mm langer as dié van die Golf) en die res van die pakket getrou aan BMW se ingenieursfilosofie te hou ? 'n geval van eendrag maak mag.

Ook bied 'n lang asafstand uitmuntende hantering, en boonop maak dit die verpakking van die motor makliker. Dit beteken ook dat die 1-Reeks algeheel groter en langer as die Golf of 147 is, hoewel dit nie werklik groter vertoon nie.

Dryfwiele agter en 'n dryfas van voor na agter beperk egter bagasieruimte, en dit het BMW genoop om 'n splinternuwe en hoogs gevorderde kompakte vyfskakel-agterveringstelsel te ontwikkel.

Ook gebruik die 1-Reeks paploop-bande, wat die nodigheid van 'n spaarband uitskakel, en dit alles sorg dat daar 330 liter pakplek (gemiddeld in die klas) agter is, wat vergroot kan word tot 1 150 liter met die agtersitplekke afgeslaan.

Enjins

Aanvanklik sal die 120i-model met 'n viersilinderenjin met onder meer Valvetronic (110 kW teen 6 200 r/min en 200 Nm teen 3 600 r/min) beskikbaar wees, en dit sal binnekort aangevul word met die 116i (85 kW @ 6 000 r/min/150 Nm @ 4 300 r/min), die 118i, wat dieselfde tweeliter-enjin as die 120i het, maar met gewysigde elektronika en ander ratverhoudings om 95 kW teen 5 750 r/min en 180 Nm teen 3 250 r/min te lewer, asook die vlagskipmodel, die 120d met 'n gevorderde tweeliter-turbodieselenjin (115 kW @ 4 000 r/min en 'n allemintige 330 Nm @ 2 000 r/min), gekoppel aan 'n sesgang-handratkas (die 116i en 118i het 'n vyfgang-kas) of outomatiese sesgang-Steptronic kas.

Binne het die Een byna al die toerusting wat in sy groter broers beskikbaar is, en stelsels soos iDrive, satellietnavigasie, sleutellose toegang (sy onsteking werk met 'n drukknop en kaart) en Bluetooth-aanpasbaarheid is opsioneel beskikbaar.

Sy uitmuntende padgedrag word aangehelp deur stelsels soos DSC, ABS, CBC en EBD, en 205/55R16-bande (17-duimers is opsioneel beskikbaar) en ritgerief is goed, hoewel dit net soos die 3-Reeks lekker kan trippel op ongelyke padoppervlaktes.

Soos met al die Bangle-BMW's sal die stilering (wat 'n voorsmaak van die nuwe Drie gee) nie in almal se smaak val nie, maar dié ryding sal nie daarvoor gekoop word nie ? dis 'n motor gemaak vir geesdriftige bestuurders.

Ook is die reeks se pryse uiters mededingend, en dit behoort reeds genoeg aansporing te wees vir mense om uit hul A3's en Golfs (en ook 3-Reekse) in 'n 1-Reeks te klim. BMW beplan om sowat 250 1-Reekse per maand te verkoop. Ons meen die vraag (veral vir die 118i) gaan heelwat groter wees.

Dis so Een-voudig soos dit.

Inside Wheels24

There are new stories on the homepage. Click here to see them.