--
 
Hot hatches - Old vs New

Check out these 5 hatches and compare the old with the new.

5 most important cars

We take a look at 5 cars that revolutionised the automotive industry.

Peugeot se familie-vennoot

2004-08-30 14:54

Die gewildheid van kleiner veeldoelbussies is steeds aan 't toeneem in Suid-Afrika, en met al hoe meer modelle wat in dié mark gesig wys, het dit die Franse Leeu ook genoop om hier te kom speel.

Anders as sy Franse teenstander Renault het Peugeot nie 'n doelgeboude klein veeldoelbussie soos die Scénic nie (die 307 SW vervul in 'n mate dié rol) en daarom is besluit om die Partner, sy handelsvoertuig-welp, aan te pas om 'n bekostigbare gesinsvervoermiddel ook te wees en die Grand Raid is gebore.

In hierdie opsig volg Peugeot die voorbeeld van sy vennoot Citroën, want dié vervaardiger het reeds geruime tyd gelede sy Berlingobestelwaentjie spesiaal vir gesinsgebruik in Multispace-vorm bekend gestel.

Die Berlingo en Partner is op dieselfde onderstel geskoei, en dis net hul stilering wat verskil, maar met die Multispace en Grand Raid fokus hulle op verskillende nisse in dieselfde marksegment.

Waar die Berlingo Multispace met 'n kleinerige enjin toegerus is en meer gemik is op diegene wat 'n ma-se-taxi soek, is die Grand Raid eerder 'n lewenstylvoertuig met stilering wat hom alte veel na 'n viertrek-veldryer laat lyk.

Kopers

Volgens Peugeot is die doel met die Grand Raid om 'n ryding te bied aan aktiewe mense wat op soek is na 'n gemaklike, robuuste en betroubare gesinsvennoot wat in bykans alle omstandighede benut kan word.

Daarom is die Grand Raid ontwerp om byval te vind by middelslag-kopers wat 'n praktiese dog bekostigbare voertuig soek waarmee hulle hul uitspanvoorkeure kan uitleef. En met sy stilering wys die Grand Raid dat eenvoud nie noodwendig persoonlikheid uitsluit nie.

Die Partner Grand Raid verskil in heelwat opsigte van sy meer besadigde handelsvoertuig-eweknie. Hy het 'n nuwe vooraansig met kopligte onder skoon glas en 'n stewige enjinkap, en om hom nog aggressiewer te laat vertoon, het dit ligbeskermers voor en agter, en misligte in die aluminium-bufferstrook voor.

Om hom nog meer na 'n uitspanvoertuig te laat lyk, het hy ook kleurgepaste kantspieëls en deurhandvatsels, en 'n moderne kleurskema.

Die Grand Raid pronk met 'n veelsydige binneruim. Die agterste sitplekke met afsonderlike kopstutte bied 'n 60/40- gesplete platvoufunksie, dit het 'n oorhoofse bêreplekkie vir avontuur-benodigdhede soos 'n draagbare GPS en kaartboeke, en in die middelkonsole is drie bekerhouers.

Met sy hoë dak bied die Partner hope kopruimte en pakplek en kan dit vergroot word deur die agterste sitplekke af te slaan. Sy agterste sitplekke is ook heel gemaklik, en drie groot insittendes kan gehuisves word, terwyl die skuifdeure weerskante maklike in- en uitklim verseker.

Die binneruim-afwerking is ver verwyderd van sy bestelwa-eweknie se basiese vlak, en in der waarheid sou 'n mens nie sy herkoms kon bepaal nie indien jy dit nie vooraf geweet het nie.

Toerusting

Standaardtoerusting sluit in 'n lugversorger, 'n klankstelsel met 'n CD-speler met satelliet-kontroles op die stuurkolom wat die klank na gelang van die snelheid outomaties harder of sagter stel, 'n kragversterkte stuur, 'n elektriese kantspieël aan die passasierskant, elektriese vensterruite en 'n sentrale sluitstelsel.

Ook aan veiligheidstelsels ontbreek dit nie. Twee lugsakke voor, met 'n inhoud van 60 F vir die bestuurder en 100 F vir die voorste passasier, is standaard, en al die sitplekke het gordels met voorverspanners en ladingbeperkers. Kleuters kan hulle enige plek tuismaak met die hulp van Isofix-monteerpunte.

Met die Grand Raid, wat op die avontuurmark mik, was Peugeot in die kol met sy besluit om sy 2 F -turbodieselenjin met gemeenskaplike drukbuis, direkte inspuiting en laedruk-turbo in dié model te gebruik. Dié enjin, wat ook in die 206- en die 307reeks gebruik word, lewer 66 kW teen 4 000 r/min en 'n stewige 205 Nm wringkrag teen 'n lae 1 500 r/min, en dit gee dié wa genoeg stukrag om modder- en grondpaaie maklik kaf te draf.

'n Beperkte glipewenaar, wat sorg dat die krag na 'n tollende wiel tot net 75% beperk word, wat beteken 25% krag is beskikbaar vir die wiel wat steeds vastrap, dra by tot sy goeie grondpadvermoëns.

Ook is die Grand Raid se veringstelsel 30 mm hoër as sy werkesel-boetie s'n, danksy langer vere en 'n sagter as en versterkte voorste mikvere, wat sorg vir 'n grondvry hoogte van 170 mm genoeg om in lang gras en taamlik ongelyk paaie te kan rondvoeter.

Sy hoër grondvry hoogte verbeter ook sy invals- en vertrekhoeke tot onderskeidelik 28 en 37 onderskeidelik. Die enjin word deur 'n 3 mm-plaat teen stampe van klippe beskerm en 15 dm.-wiele geskoei met 185/65R15-bande rond die pakket af.

Die sagter vering is voelbaar op teerpaaie en daar is effense bakrol, maar dit is glad nie irriterend nie en die Partner Grand Raid se padhouvermoë is aanvaarbaar, hoewel hy lekker stuurtraag kan raak as 'n draai te vinnig aangepak word, vermoedelik aangehelp deur die glipewenaar wat die agterkant in toom probeer hou.

Die Grand Raid het 'n mens egter verbaas met sy ritgehalte en bestuursgevoel, en met sy wringkragtige enjin en suinige verbruik (volgens Peugeot net 5,8 F diesel per 100 km) is dit 'n aantreklike pakket vir diegene wat grond- en modderpaaie op 'n lang vakansiereis wil aandurf.

Sy prys van R184 900, wat 'n driejaar/100 000 km-waarborg en Peugeot Assistance-padbystanddiens insluit, behoort belangstellendes aan te staan. 'n Onderhoudsplan van 5 jaar/60 000 km is ook beskikbaar.

MET 'N OOGOPSLAG

  • Peugeot Partner Grand Raid 2,0 HDi Enjin
  • Tipe: Gelid-viersilinder, diesel, turbo
  • Slagvolume: 1 997 cc
  • Krag: 66 kW @ 4 000 r/m
  • Wringkrag: 205 Nm @ 1 900 r/m

    Ratkas

  • Tipe: Vyfgang-handrat

    Remme

  • Voor: Geventileerde skywe
  • Agter: Trommels
  • Sluitweerremstelsel/EBD: Ja/Ja, plus nood-remhulp

    Veringstelsel

  • Voor: MacPherson-stutte, voorste mikveer-as, gekoppelde teenkantelstaaf
  • Agter: Sleeparms, wringstawe, teenkantelstaaf

    Wiele en bande

  • Wielgrootte: 6,5J x 15
  • Bandgrootte: 185/65 R15

    Verrigting

  • 0-100 km/h: 15,6 s.
  • Topspoed: 160 km/h

    Prys

  • R184 900
  • Inside Wheels24

    There are new stories on the homepage. Click here to see them.