--
 
Hot hatches - Old vs New

Check out these 5 hatches and compare the old with the new.

5 most important cars

We take a look at 5 cars that revolutionised the automotive industry.

Mazda3: Oorgeërfde voortreflikheid

2004-08-30 14:54

Ferdi de Vos

Die laaste dekade of wat was Mazda se produkte bekend vir hul meganiese integriteit en duursaamheid, maar hoewel van sy nisprodukte in die kol was, was opwinding en passie nie deel van die beskrywing vir hul brood-en-botter produkreekse nie.

Dit het daartoe gelei dat die oorgrootte meerderheid van Mazda se klantebasis al hoe meer bejaard geword het, en die Japannese vervaardiger het besef 'n nuwe produkfilosofie is nodig.

Dit het gelei tot Zoom-Zoom - 'n sin vir lewenslus en opwinding wat volgens Mazda meer as net 'n bemarkingslagspreuk is, en eerder beskou moet word as 'n emosionele kompas wat elke aspek van Mazda se produk-ontwikkeling lei.

Die afgelope twee jaar het Mazda betekenis by dié doelwitte gevoeg met die bekendstelling van sy nuwe-geslag produkte soos die Mazda6 en Mazda RX-8.

Volgens die vervaardiger het die Mazda6 Zoom-Zoom gedefinieer, en dit het sedert sy bekendstelling meer as 70 pryse wêreldwyd verower om dit die mees bekroonde Mazda ooit te maak

Die nuwe Mazda3, wat hier beskikbaar sal wees in sedan- en luikrugvorm, is geskoei op dieselfde lees as die Ses, en die beste eienskappe van dié model, tesame met die insig wat Mazda se ontwerpers en ingenieurs met die evolusie van die nuwe Mazda-produkte opgedoen het, is in dié reeks vervat.

Opwindende voorkoms

In teenstelling met die Etude is die Drie se buitestilering heelwat meer opwindend en sportief. Sy lang asafstand (2 640 mm) en kajuit, kort oorhange en groot wiele, asook wye voorste en agterste modderskerms, gee dit 'n selfversekerde voorkoms, wat versterk word deur die byna koepee-agtige vorm van die sedan.

Waar die vorige Etude se luikrug-weergawe meer soos 'n stasiewa gelyk het, het die nuwe Sport-model 'n besliste en sportiewe luikrugvorm, wat dit heelwat meer aanklank by die jongeres van gees sal laat vind.

Die grootste verskil tussen die nuwe Drie en sy Etude-voorganger is die amperse gewaagdheid van sy ontwerp, met uitdagende karakterlyne, interessante kontoere en geïntegreerde ronde hoofligte en kombinasieligte agter.

Behalwe hul ooglopende luikrugvorms, verskil die Sport-modelle se sierroosters aansienlik van dié van die sedans, asook die misligte in die voorste lugskort, en agter word LED-ligte gebruik.

Die topmodelle het ook die Sportiewe Voorkoms-pakket wat ook sykant-skorte en 'n drukvlerkie agter op die Sport-modelle se dak, en op die bagasiebak van die sedans, insluit.

Ruimte

Die Mazda3-reeks is een van die langste, wydste en hoogste (1 465 mm) rygoed in sy segment, en daarom het dit die beste skouerruimte voor en agter, asook die beste knieruimte in sy klas.

Binne is die heuppunte sowat 30 mm hoër as dié van die Mazda Etude, en die stuurkolom kan tot 40 mm kantel en tot 50 mm in reikafstand verstel.

'n Netjiese instrumentepaneel, met 'n prominente samestelling van drie instrumente, leerbedekte stuurwiel en sporttipe sitplekke, afgerond met metaaltipe afwerking, amberrooi beligting (met indirekte blou beligting in die topmodelle), verleen 'n verfynde, dog sportiewe gevoel aan die modelle.

Ook is daar heelwat pakplek in die passasiers- en bagasieruim. Die diep paneelkissie het ruimte vir 'n tweeliter-koeldrankbottel, en die middelkonsole het 'n dubbele bodem met onder meer plek vir 13 CD's.

Die agtersitplekke kan in 'n 60/40-formaat platvou en die sedan het 419 liter pakplek agter, terwyl die Sport se vloer ingespan kan word om die bagasieruim in 'n boonste en onderste afdeling te verdeel.

Die agterste deel van die vloer kan gelig word om 'n skeiding te vorm tussen die voor- en agterdeel van die ruim.

Enjins

'n Keuse van twee MZR-viersilinderenjins van 1,6 en 2,0 liter, albei met kleptydreëling (S-VT) en 'n veranderlike induksiestelsel (VIS), is in die reeks beskikbaar.

Die 1,6 liter-enjin lewer 77 kW teen 6 000 r/min en ontwikkel 146 Nm wringkrag teen 4 000 r/min, terwyl die tweeliter-kragbron 104 kW teen 6 500 r/min en 182 Nm wringkrag teen 4 500 r/min lewer. Albei enjins is gekoppel aan 'n vyfgang-handratkas.

Vier spesifikasievlakke is vir die modelreekse beskikbaar, nl. die 1,6 liter Original, 1,6 liter Active, 1,6 liter Dynamic en 2,0 liter Individual. Die 1,6 Active/Dynamic en 2,0 liter Individual-modelle het nuwe kenmerke in wat nog nie voorheen in 'n Mazda in hierdie segment te sien was nie, soos 'n outomatiese ligstelsel (Auto Light System), en 'n reënsensor vir die ruitveërs.

Die Original-modelle het net 'n radio, maar die 1.6 liter Active het 'n radio en CD-voorlaaier, terwyl die 1.6 liter Dynamic en 2.0 liter Individual-modelle toegerus is met 'n radio en 'n 6-CD-wisselaar in die instrumentepaneel.

Die Individual-modelle word ook onderskei deur die sport-voorkomspakket, asook halogeen-kopligte, 'n outomatiese lugversorgingstelsel en 'n sesskyf-CD-speler in die voorpaneel.

Wat sy voorkoms, spesifikasievlak, binneruim-uitleg en ?afwerking, asook algehele bougehalte betref, is die nuwe Mazda3 gelykstaande aan die beste rygoed in sy klas, maar verrigting en hantering speel ook 'n vername rol.

Stewig

Die nuweling het 'n uiters stewige bakstruktuur met bogemiddelde wring- en buigstewigheid, en dit, tesame met 'n MacPherson-tipe stutveringstelsel voor en veelskakelstelsel agter (gegrond op dié van die Mazda6), gee die Mazda3 uiters goeie hanteringseienskappe.

Hoewel ek net 'n kort toetsrit met 'n 1,6 liter Dynamic-sedanmodel kon onderneem, was die stuurgevoel heelwat meer direk en gebalanseer as dié van die Mazda6, en die Drie was uiters goed met die indraaislag.

Ook het dit meer beheerbaar en pasvas in swiepdraaie gevoel, en my aanvanklike indrukke was dat dié ryding net so goed, indien nie beter nie, as Toyota se Corolla, Honda se Civic en Volkswagen se Golf4 hanteer. Die tweeliter-modelle is toegerus met elektro-hidrouliese kragstuur (EHPAS) wat volgens Mazda vir selfs meer presiese stuurgevoel teen alle snelhede sorg.

Die enjin was soepel en heel gewillig, maar beslis geen bol vuur nie, en daarom meen ek diegene wat 'n bietjie verrigting soek, behoort die tweeliter-model aan te skaf.

Die handratkas met kabelwerking se wisselings is vinnig en sekuur, maar jy moet dit presies plaas, anders kan jy misskakel. En nog 'n kenmerk wat opgeval het, is die uimuntende remwerking en ?gevoel.

Wat veilgheid betref, is gevorderde impakverdeling- en absorpsie-tegnologie (Advanced Impact Distribution and Absorption System ? MAIDAS) in die Mazda3 ingespan, en al die modelle het dubbelfase voorste lugsakke is in al die modelle aangebring.

Gordynlugsakke voor en agter en kantlugsakke vir die bestuurder en voorste passasier is ook deel van die standaard-toerusting in die 1,6 liter Dynamic- en 2,0 liter Individual-modelle.

Groot skyfremme reg rondom (geventileer voor) en vierkanaal-sluitweerremme (ABS) met elektroniese remkragverspreiding (EBD) sorg vir beheerbare en uitmuntende stopkrag, en al die modelle het 'n transponder-immobiliseerder/alarm met afstandbeheerde sentrale sluiting.

Derde nuwe-geslag Mazda

Volgens Rob Crouse, bemarkingsbestuurder van Mazda Suid-Afrika, is die Mazda3 "Mazda op sy beste".

"Dis die derde nuwe-geslag Mazda, en die derde nuwe Mazda wat in minder as 14 maande in Suid-Afrika bekend gestel is.

"Mazda wys met die Mazda3 dat sy lang tradisie van uitmuntendheid, en verbeeldingryke ontwerp wat deur intelligente ingenieursvernuf onderskraag word, nuwe standaarde in die bedryf stel.

"Dit is die ware DNS van die Mazda-fabrikaat."

Die Mazda3 het 15 000 km-versieningstussenposes, 'n waarborg van drie jaar of 100 000 km, asook die MazdaMotion-instandhoudingsplan van vyf jaar of 60 000 km met 'n noodpadhulpdiens.

Myns insiens gaan hierdie model uiters gewild word, want hoewel sy mededingers dalk net so bekwaam is, bied die Mazda3 rygenot in 'n opwindende vorm in 'n segment wat tradisioneel gefokus het op funksionaliteit en verkoopsvolumes, en dit kan die onderskeidende faktor wees wanneer dit by die koopbesluit kom.

Mazda3 sedan en Sport-reeks: Voorgestelde kleinhandelpryse

  • Mazda3 1.6 Original: R159 990
  • Mazda3 1.6 Active: R168 990
  • Mazda3 1.6 Dynamic: R179 990
  • Mazda3 2.0 Individual: R206 990
  • Inside Wheels24

    There are new stories on the homepage. Click here to see them.